Vektor (Wiskunde)

In wiskunde, fisika en ingenieurswese, is 'n vektor 'n meetkundige voorwerp wat 'n lengte en 'n rigting het. Formeel word 'n vektor gedefinieer as 'n element van 'n vektorruimte. Een van die algemeenste vektore is die driedimensionele vektor, wat 'n punt in driedimensionele ruimte beskryf. So 'n punt kan voorgestel word deur sy drie koördinate: x, y en z. Die vektor kan dan as 'n pyl gesien word, wat by die oorsprong - die punt met koördinate (0,0,0) - begin en by die punt (x,y,z) eindig. Sulke pyle word gebruik om eienskappe soos snelheid, verplasing, versnelling en krag te beskryf. Die term vektor is in 1837 ingevoer deur William Rowan Hamilton, en is aanvanklik gebruik om slegs driedimensionele vektore te beskryf. Die term word deesdae in 'n baie breër sin gebruik, aangesien daar geweldig baie verskillende vektorruimtes bestaan.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search